Gebedsbrief – 09-12-2010
Druk uit en lees/bid rustig deur Hettie van Rooyen se 2de gebedsbrief vir Hey! se bediening.
Lofprysing
1 Kron. 28:11-13 – “Aan U, Here, behoort die grootheid en heerlikheid, mag, roem en majesteit. Alles in die hemel en die aarde behoort aan U, Here. Aan U behoort die koninkryk. U is verhewe bo alles. Rykdom en eer kom van U alleen want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk. Ons dank U, o God, en prys u heerlike Naam! “ Hiermee verklaar ons – aan God behoort die grootheid, heerlikheid, mag roem en majesteit – alles in die hemel en die aarde behoort aan God – die koninkryk behoort aan God – Hy is Koning oor alles – as alles aan God behoort, besit Hy rykdom en eer – God het die krag om te verhoog en versterk volgens Sy wil.
1. Sondebelydenis – Jes. 42:8 – “My eer deel ek met niemand nie” – Bely voor God dat ons nie altyd die eer aan Hom gee vir wat goed gebeur in ons lewens nie – Bely dat ons grootste stryd is om eer vir onsself te hou – Vra God om ons oë op Hom gefokus te hou en Hom die eer gee wat Hom toekom
2. Gebed versoeke – Dank God vir die volgende:
- 2010 – een jaar se evangelie wat gesaai is in kinderharte
- Vir elke kind wat geestelik gegroei het en elke kind wat Jesus aangeneem het
- Vir elke ge-opende deur in skole en instansie waardeur kinders bereik is
- Vir elke werker en helpers wat die evangelie uitgedra het. Vir die passie wat in hulle harte brand vir Jesus en kinderharte.
- Dank God vir die totstandkoming van Hey!
- Vir finansiële voorsiening. Dank God vir Mergon Trust wat as ‘n vennoot na vore gekom het vir Hey!
3. Seën – Uit “Seën jou gees…” van Arthur Burk Fil. 1:6 “….dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” – Seën jou, Hey!, om so in die genade van God te wandel dat jy die dinge kan voltooi wat God in jou hart geplaas het. Daar is so baie areas waar jy begeer om die werk van God te doen maar dit nog nie voltooi het nie, daarom seën ek jou om God se getrouheid daarin te ervaar dat Hy jou die genade sowel as die begeerte gee om dit te voltooi.
Dankie dat jy saam met ons bid!

