EE3 Konferensie

Wat ‘n voorreg was dit nie om hierdie groot jaarlikse geleentheid te kon bywoon nie.  Ons het op 15 November begin by die Lofdal Kampterrein net buite Pretoria.  Heerlik om al die mede kollegas te ontmoet van verskeie buurstate soos Botswana, Mpumalanga, Swaziland, Namibia, ens.

Maandag het Ds Nico begin met ‘n kosbare gedeelte uit Matt. 8:18-27.  Hy het ons so bemoedig deur ons daarop te wys dat al was Jesus moeg en wou gaan rus, het Hy, toe die skare opdaag voort gegaan en hulle bedien.  Ons moet in die boot wees saam met Jesus.  “You can’t experience God if you’re not in the boat.”  En hoe waar is dit nie.

Die res van die dag het ons verslag gelewer oor wat in ons omgewings en bedienings gebeur het in 2010.  Ek kon soveel leer deur te hoor wat in alle streke van Suider Afrika aan die gebeur is.

Dinsdag 16 November het Past Johannes Lata met ons gepraat oor die vermeerdering van die broodjies en die vissies.  Hy het dit deurgetrek na hoe God vir almal daar gesorg het.  Maar kyk net waarmee het die dissipels opgeeindig – elkeen nog ‘n mandjie vol kos!  Ons moet God nooit betwyfel nie.  Hy sal vir ons sorg as ons Sy wil doen.

Daarna het ons begin met die beplanning van 2011 en moes elkeen van ons ook ‘n finansiele begroting vir die jaar opstel.  Ons moet leer om God te vertrou vir ons uitgawes.  Ons het ook alle nuwe administrasie rondom Hoop vir Kinder klinieke afgehandel en getuienisse met mekaar gedeel.  Dinsdagaand het ons almal die DVD “The God Man” gekyk en gepraat oor hoe ons dit kan gaan implimenteer.

Een spesifieke getuienis wat my bygebly het:  Mama Lina van Umtata het haar hart aan die Here gegee.  Sy kon nie lees of skryf nie.  Sy het een begeerte gehad en dit was om die Woord van God te kon lees.  Sy het Sondag na Sondag in die kerk gesit en alles ingedrink wat sy gehoor het.  Sy het begin bid dat God dit vir haar sou moontlik maak om op hierdie rype ouderdom van haar te kan leer om te lees sodat sy die Bybel kan begin lees.  Sy het een nag ‘n droom gehad dat die Heilige Gees haar kom leer om te lees.  Toe sy die volgende oggend in die kerk kom vra sy die dominee of sy asb die skrifgedeelte kan lees.  Hy was baie skepties omdat hy geweet het sy kan nie lees nie, maar het toegegee aan haar versoek.  Mama Lina het opgestaan en die skrifgedeelte vlot begin lees.  Die wonderlikste deel van die storie?  Mama Lina kan net uit die Bybel lees!  Hulle het al vele ander boeke voor haar gehou en haar probeer kry om te lees, maar sy kan net die Woord van God lees!  God het haar gebed beantwoord. 

Woensdagoggend het Dennis met ons gepraat uit Fil 3:12-16.  Ons moet voluit gaan vir die wenpaal.  Hou jou oe gevestig op God en Hy sal jou beloon aan die einde van die wedloop.

En ai die tye wat ons gehad het om saam te bid gedurende hierdie 3 dae was net fantasties.  Om saam met ons broeders en susters van verskillende denominasies te kon stil word en mekaar aan die Here te kom opdra was ‘n belewenis wat mens nie kan oorvertel nie.  En dan praat ons nie eers van die lekker sing nie!  Ai dit was so geseend!  Kan nie wag vir volgende jaar om almal weer te sien en te hoor hoe God hul bedienings in 2011 geseen het nie.

Ja ek weet, almal wil seker weet hoe ons geeet het!  Ha-ha-ha – dit bly mos maar altyd ‘n hoogtepunt.  Ons het lekker eg Afrika geeet.  Braaivleis, stywepap en shibo!  Heerlik!  Sophie en Anna was uitstekend in die kombuis en moenie van Chris vergeet wat die vleis moes braai nie.  Uitstekend!  Ek dink ons het almal so ‘n paar kilo’s opgetel wat werklik die moeite werd was.  Dankie ons het werklik lekker geeet!

Dankie aan die EE span wat so ‘n wonderlike konferensie gereel het!

This entry was posted on Friday, November 19th, 2010 at 10:16 am and is filed under On the Road. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.

Leave a Reply

 
css.php