Bybelse Inspirasie – Oktober 2010

Ry vandag saam met my deur die Weskus Nasionle Park gedurende die blommeseisoen!  Eers word ons begroet deur  ‘n kleuretapyt van die mooiste  veldblomme. Dan sien ons die wye Atlantiese oseaan aan die een kant en aan die linkerkant die turkoois Langebaan meer, die speelgrond van flaminke en pelikane! Ons ry na ‘n uitkykpunt en sien ’n interessante wit vissershuisie. Van nader beskou kom ons agter dat dit bo-op ’n soliede groot rots gebou is!

Die inspirasie vir die maand kom van dié wit huisie en die Bybelse verhaal in Matteus 7:24-27“elkeen wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens wandel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stort reën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”     

Die huisie met het my diep laat dink en dis my vraag :

1. Is jou huis op rots gebou of op sand? Die dwaas in die verhaal se lewe tuimel soos ‘n kaartehuis inmekaar asof op sand gebou. Mens sal mos nie doelbewus jou lewe op wankelrige fondamente bou nie? Soms dink mens net nie behoorlik na oor  wat jou doel in die lewe is nie. Baie mense is oppad na ondergang as gevolg van onverskilligheid. Hulle hoor wat God sê maar is nie bereid om dit te doen nie.  

2.Hoe kan ons gehoorsaam wees en so ons huis op rots bou ?

a) Hebreërs 11:6 “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon” Dit beteken dat jy Sy bestaan erken maar meer as dit, dat jy ‘n persoonlike verhouding met God sal hê. Hy beloon jou met Sy teenwoordigheid.

b) Hebreërs 5:8 “Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is.”  Ter wille van ons was Jesus gehoorsaam al het dit tot Sy kruisdood gelei. Deur Sy Gees stel Hy jou in staat om gehoorsaam te wees, jy hoef nie alleen te probeer om jou huis op rots te bou nie!

Ek haal graag aan uit Sylvia Gunter en Arthur Burk se boek “Seën jou gees…” lees rustig en biddend deur die seëngebed oor die bewustheid van jou lewensdoel: 

“Ek seën jou met die verwesenliking van die roeping van God op jou lewe om Sy wil ten volle uit te leef. Ek seën jou met jou Vader se volmaakte tydsberekening vir jou lewe, om nie oorhaastig of traag te wees nie, maar om Sy wil te ken en Sy wil op die regte tyd, die regte plek, die regte manier en met die regte mense aan jou sy te doen. Jou Vader sal jou seën met die regte toe deure, want die vyand sal probeer om jou dinge te laat doen waarvoor God jou nie gemaak het nie-goeie dinge, winsgewende dinge, wettige dinge, eerbare dinge maar dinge waarvoor jou Vader jou nie bestem het nie.Jou Vader sal jou seën met geopende deure om op Sy bepaalde tyd op jou roepingspad te vorder dat jy die vreugde van vervulling kan ervaar omdat jy op die regte tyd op die regte plek alles is wat Hy jou geroep het om te wees”    

Ervaar die vreugde om jou skeppingsdoel uit te leef!

 

This entry was posted on Friday, November 5th, 2010 at 1:02 pm and is filed under Kids. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. You can leave a response, or trackback from your own site.

Leave a Reply

 
css.php